Gert, Maryann en Oortjies. – Peter Thomas

Ado, ons Bouvier rem aan sy loopketting, hy is altyd opgewonde as ons vir ons gereelde middagstappie gaan. Hy het sy gereelde ruikplekkies, dan moet ek maar geduldig wag tot hy sy ruikding klaar gedoen het en ons weer kan aanstap.
Regoor die plaaslike winkelsentrum hoor ons ‘n opgewonde njaf-njaf en ‘n klein kriek van ‘n brak storm van onder ‘n struik uit en rem aan die ketting wat om sy nek vasgemaak is. Ado pluk my amper onderstebo soos hy trek om die dingetjie by te kom.
En dis toe ek hom sien, die boemelaar wat gereeld in die omgewing was tot ‘n paar maande gelede toe hy en sy maat, ek het toe nog gedink dis sy vrou, eendag nie meer te siene was nie. Dankie tog, het ek by myself gedink, nou kan ek en Ado rustig smiddags ons stapding doen.
“Middag oom, jammer oom.” Vra hy verskoning vir sy hond se gedrag. “Ons wou nie pla nie oom.” Hy lyk soos enige ander boemelaar lyk. Lang hare kruip onder sy pet uit, gesig ongeskeer, klere oud maar tog skoon.
“Geen problem.” laat ek weet en ek rem vir Ado verder, hy loop al terugkykend na die njaffende brakkie tot ons om die draai is en ons ongestoord verder kan stap.
Heeltyd oppad huistoe dink ek aan die man en sy hond. Wie was hulle, waar kom hulle vandaan, hoe het hulle in die haglike omstandighede beland.
By die huis aangekom het ek reeds besluit, ek gryp gou my kamera en ‘n notaboekie, en stap terug tot waar ek hulle gesien het.
“Middag, oom, my naam is Gert, Gert Erasmus.” groet hy my toe ek nader stap en steek sy hand uit.
Ek groet huiwerig.
Ek sien ‘n vrou staan oorkant die pad by die winkelsentrum uitgang met haar kartonbordjie. Karre ry by haar veby, lyk nie of iemand vir haar iets gee nie.
Ek val met die deur in die huis, “Kan ons bietjie gesels? Sal jy omgee om jou storie vir my te vertel en kan ek ook ‘n paar fotos neem?”
Tot my verbasing stem hy in.
“Wag, laat ek net gou vir Bokkie roep” en hard skree hy vir haar, “Bokkie, kom gou hier, die oom wil fotos neem!”
Sy kom oor die pad na ons toe aangestap, gesig beplooid, maar ek reken dis eerder van die lang sonstaan as van ouderdom.
“Middag oom,” en sy steek haar hand uit. Haar greep is stewig, nes syne was, in my gedagtes dink ek dat dit van hulle harde leefwyse is.
Hulle gaan sit op platgedrukte kartonbokse voor my en ek neem sommer op die gras plaas, sommer so agter die struik op die sypaadjie. Oortjies, die brakkie, behaaglik uitgestrek in die laatmiddag sonnetjie.
“Gee julle om as ek ‘n storie oor julle skryf en dalk ‘n paar fotos neem ook? Ek is bereid om te betaal daarvoor” vra ek.
“Dis goed so, oom, ons het niks om weg te steek nie, ons baklei nie, steel nie, pla niemand nie, hierdie bord praat vir ons,” en hy hou die bord op sodat ek kan lees: Hungry no food. Small donation. Please help, I thank you?
“Vertel my bietjie wat het gebeur dat jy hier op die sypaadjie geland het” vra ek vir Gert.
“Wel, oom, ek het Standerd 8 gemaak op Kraaifontein toe word ek motor mechanic wat ek gedoen het tot 1992. Maar ek was intussen vir 7 jaar in die tronk ook”
“Waarvoor was jy in die gevangenis, Gert?” vra ek.
“Haai nee oom, dit kan ek nou nie sê nie, ek het my tyd gedoen en my skuld is betaal, let bygones be bygones”
“My been en rug het ook seergekry, oom, ek het al vyf keer aansoek gedoen vir disability maar daar het nog niks van gekom nie, ek het nou maar opgegee.”
“Ek was getroud ook, in 1964. Vier kinders, twee seuns, twee dogters. Ons praat nie, hulle wil niks van my weet nie” en hy gee ‘n lang sug.
“Ek ontmoet toe vir Maryann in 1992 en ons is van daardie tyd al saam, nee, ons is nie getroud nie, leef meer net so saam”
Janee, dink ek, twee siele wat die lewe uitgewerp het en wat in mekaar nou troos en samesyn vind.
“En jy, Maryann?” vra ek. “Hoe het jy hier gekom?”
“Sorry oom, kan ek maar rook?” vra sy beleefd, ek laat haar begaan.
Sy gee ‘n lang trek aan die sigaret en begin haar storie.
“Ek was in ‘n spesiale skool maar het in Standerd 6 die skool gelos. Toe ek op 17 getroud is het ek al twee kinders gehad. Ons is sommer vinnig geskei. Ek weet waar my kinders is maar hulle stel nie in my belang nie. Die seun is ‘n poliesman.”
“Party dae maak ons so R100, oom” vertel sy verder. “Op ‘n baie goeie dag het ons al R300 gemaak. Ek staan maar met die bord, die mense geen nie as Gert staan nie”
‘n Swartman op ‘n fiets stop by ons, hy roep haar nader, gee vir haar twee fotos wat hy van hulle geneem het.
Maryann kom wys vir ons die fotos. Hulle is poskaart grootte en ek sien Gert, Maryann en Oortjies pryk op die fotos.
“Hy vra ons net R15 per fotos,” sê Gert ewe trots, “ek het hom klaar betaal.”
“Ek lyk mooi in die pakkie, nê?” vra Maryann en hou sodat ek kan sien. Ek voel skielik skaam dat hulle met sulke ou klere kan spog en ons het soveel mooier en nuwer klere.
Ek het intussen agt fotos van hulle geneem en ek verseker hulle dat ek die fotos vir hulle sal gee sodra ek hulle laat druk het. Hulle verseker my dat hulle oor twee dae nog daar sal wees voordat hulle weer vertrek. Hulle gaan glo Komatipoort toe omdat dit warmer daar is, hulle gaan sommer daar bly vir die winter.
“Ons is nog ‘n week hier, oom, dan gaan ons maar weer die pad vat, dit word nou koud saans”
“Waar slaap julle, Maryann?” Vra ek.
“Hier oorkant die pad by die garage is ‘n carwash, oom, sommer daar onder hulle afdak. En as dit dalk reën slaap ons sommer in die garage se toilette.” Laat sy weet.
Ek dink aan die lekker snoesige warm bed by die huis en kry hulle sommer baie jammer. Selfs Ado slaap seker warmer as hulle.
“Ons kan maar ophou vir die dag” sê Maryann, “die parking raak nou vinnig leeg.” Die son mik vinnig horison toe en die luggie raak koeler.
Ek groet en prop ‘n R100 noot in Gert se hand.
“Baie dankie oom, die Here sal jou seën” hy kan my nie in die oë kyk nie.
Daar is ‘n knop in my keel as ek wegstap.
“Moenie die fotos vergeet nie, oom” roep Maryaan agterna.
Hulle vat hulle paar besittings en loop oor die pad na die carwash se afdak. Oortjies aan sy leiband stap gehoorsaam saam.
Ek stap na ‘n warm huis, lekker kos en sagte bed en besef dat ek so baie het om voor dankbaar te wees. Ek prewel ‘n gebed en vra dat ‘n Hoër Hand hulle moet beskerm.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s