Roomys resepte

As jy roomys maak, wil jy hê die eindresultaat moet romerig en fluweelglad wees, nie grof en vol groot yskristalle nie. Maar om dit reg te kry, het jy ’n roomysmaker nodig, of andersins moet jy die roomys ’n hele paar keer klits en vries tot die kristalle opgebreek is – en dis ’n groot werk. Maar hier’s ’n geheim: Kondensmelk is die towerbestanddeel vir ryk, romerige, fluweelgladde roomys wat jy nie naby ’n roomysmaker hoef te bring nie.

■ 1 x 397 g-blik volroomkondensmelk
■ 600 ml dik room
■ 250 ml volroommelk
■ 1-2 vanieljepeule, saadjies uitgeskraap

Klits die kondensmelk, room, melk en vanieljesaadjies in ’n groot bak tot goed gemeng. Giet in ’n geskikte houer, bedek goed en vries tot hard. Die roomys is heerlik op sjokoladebruintjies met ’n titseltjie fyn kaneel oorgesprinkel. Lewer 1,2 liter roomys.

Variasies
Vir koffieroomys, los 45 ml kitskoffiekorrels in ’n paar druppels kookwater op en voeg dit saam met 30 ml koffielikeur by die kondensmelkmengsel.

Rum-en-rosyntjieroomys:
Verhit 60 ml rum tot kookpunt en prut vir 2-3 minute. Laat afkoel tot kamertemperatuur. Voeg dit by die kondensmelkmengsel. Kap ’n hand vol pitlose rosyne fyner en voeg ook by.

Turkse roosroomys:
Voeg 30 ml roosstroop (nie rooswater nie) by die kondensmelkmengsel. Sit die roomys voor met gesnipperde Turkse lekkers (Turkish Delight) en granaatpitte oorgesprinkel.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a comment